Archive for the ‘standaard’ Category
Twee met sexy rokkies in hegtenis geneem
Johannesburg – Twee Nederlandse vroue is Woensdag in Roodepoort in hegtenis geneem ná afloop van ‘n onwettige bemarkingsveldtog tydens ‘n sokkerwedstryd.
Die vroue was deel van ‘n groep jong meisies wat in noupassende, oranje mini-rokkies, bekend as “Dutchy-rokkies”, die wedstryd tussen Nederland en Denemarke bygewoon het vir bemarkingsdoeleindes.
Die rokkies is glo deel van die Bavaria-biermaatskappy se nuutste bemarkingsveldtog.
Daar is vroeër berig dat Bavaria glo ook ‘n plaaslike maatskappy gehuur het om 30 Suid-Afrikaanse meisies te vind met Nederlandse gelaatstrekke.
Die Suid-Afrikaanse meisies het glo deeluitgemaak van die veldtog.
“Die Nederlandse vroue was deel van die veldtog en is in hegtenis geneem,” het kol. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, in ‘n persverklaring gesê.
Die Nederlandse koerant, Telegraaf, het die vroue as Barbara Castelein en Mirthe Nieuwpoort geïdentifiseer.
Hulle inhegtenisname kom nadat Fifa amptelike klagtes teen die organiseerders van die onwettige bemarkingsveldtog aanhangig gemaak het.
Bavaria is nie ‘n amptelike borg van die Wêreldbeker-sokkertoernooi nie en mag dus nie hulle produk op enige wyse tydens die toernooi bemark nie.
Na bewering sal die twee verdagtes Woensdagmiddag in Johannesburg in die landdroshof verskyn.
Bron: Nuu2 24

